PDA

View Full Version : Oud-Askari's, Koevoet-lede kry geld-hulp


Manuel Ferreira
27-12-2007, 15:05
Dec 26, 2007
Oud-Askari's, Koevoet-lede kry geld-hulp
Alet Rademeyer, Beeld

'n Afgesonderde gemeenskap van oud-Koevoetlede en -Askari's wat vroeër
na 'n informele nedersetting buite Bela-Bela (Warmbad) verskuif is,
het vanjaar 'n minder mistroostige Kersfees gevier nadat 'n weldoener
in die VSA 'n geldelike skenking gestuur het.

Prof. Kobus Maree, verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) se
fakulteit opvoedkunde, en me. Elize Gouws, 'n aktuaris by Momentum,
het vroeër by die Vingerkraal-gemeenskap betrokke geraak. Dit het
gekom nadat mnr. Joseph Mashisi, hoof van die skool in die gemeenskap,
aanvanklik vir prof. Jonathan Jansen, voormalige dekaan van
opvoedkunde aan die UP, om hulp genader het.

Maree het op sy beurt die groot behoefte van die gemeenskap onder mnr.
Adolph Haislar, senior mede-vise-president vir finansies en
sakedienste aan die Universiteit van Miami in die VSA, se aandag gebring.

Studente en werknemers van dié universiteit het verlede week sowat R17
000 gestuur vir die aankoop van kos en ander noodsaaklikhede. Sewe
kratte vol klere en ander benodigdhede is ook aangestuur, maar hulle
is iewers tussen poskantore soek.

Volgens Maree kry die skool goeie ondersteuning van die
onderwysdepartement in Limpopo. Die skool, met sowat 400 laer- en 200
hoërskoolleerlinge, het egter vier bykomende klaskamers nodig om onder
meer die eerste groep gr. 12-leerlinge volgende jaar te akkommodeer.

Volgens Maree oorleef die gemeenskap hoofsaaklik van maatskaplike
toelaes en geld wat van die mans elders verdien. Die nood aan basiese
items is baie hoog. Haislar en sy span het reeds aangedui dat hulle
vroeg in die nuwe jaar met 'n nuwe veldtog gaan begin om klere en
skoene in te samel vir die sowat 2 000 volwassenes in die gemeenskap.
Dit sal hulle na verwagting in Maart aanstaande jaar bereik.